
Joan Eikelboom
DIE Windhoek Uithouritklub
en die Namibiese Uithouritvereniging (Nera) bied hierdie naweek ’n
herdenkingsrit aan wat aan wyle me. Joan Eikelboom opgedra word. Die rit
word op Joan se wewenaar, mnr. AB van Wyk, se plaas Katjapia gehou.
Die rit is ook in Nederland deur die Nederlandse
Uithouritvereniging geadverteer en talle van haar ou mede-ruiters en
vriende het besluit om hierdie rit te kom ry. Die Windhoek- klub het perde
aan die Nederlandse ruiters beskikbaar gestel.
Joan is vroeg
verlede jaar op die plaas in haar slaap oorlede. Sy laat haar man en ’n
dogtertjie na. Joan was ’n bekende en geliefde uithouruiter, veral onder
Nederlanders, Namibiërs en Suid-Afrikaners. In 2004 was Joan die
Nederlandse nasionale uithouritkampioen oor ’n afstand van 160 km.
Sy het ook die Nederlandse uithouritspan by wêreldkampioenskappe
in Dubai verteenwoordig. In Desember 2007 is Joan met AB van Wyk van die
plaas Katjapia in die omgewing van Okahandja getroud. Voor haar troue het
sy in Nederland by De Hogere Agarische School “Larenstein” op Velp en
daarna by die uitgewer Reed Elsevier gewerk.
Ná haar troue, terwyl
sy in Namibië gewoon het, was sy redakteur van “Piloot en Vliegtuig”. Die
geografiese afstand was nie ’n probleem nie omdat sy steeds haar werk vir
die tydskrif via die internet kon doen.
Sy het haar
uithouritloopbaan voortgesit en aan verskeie ritte in Namibië en
Suid-Afrika deelgeneem. AB het besluit om hierdie rit op sy plaas aan te
bied ter nagedagtenis van Joan. Joan se pa, mnr. Ton Eikelboom, en twee
susters is ook in Namibië vir die geleentheid. Joan se pa sal vanaand ’n
huldeblyk aan haar opdra.